Wednesday, 18 April 2007

EK ONTHOU DIE EERSTE DAG

Ons het 23 Oktober 2005, weggetrek vanuit St Lucia. My ouers het ons hier kom aflaai, seker maar beter as ons so ver is, anders vreet die worry van waar langs die pad is my kind vanaand jou op. Die kusdorpe is redelik naby mekaar, so dit is heel moontlik, om elke aand op ‘n nuwe dorp te slaap. Die binneland, ‘n ander saak, veral van Rustenburg af, die gevare klink net soveel meer, want ons koop die Beeld en die Rustenburg Herald, wat vertel van local gevare.

Ons hele fietstoer was in ‘n japtrap beplan, net sommer besluit dis so, en ons maand kennis gewerk, toe is ons weg. Ek kan vandag nie eens meer onthou hoeveel mense het ons uitgelag nie, veral vir my, want Maria het darem ‘n goeie sport agtergrond en het net nou die dag provinsiaal hokkie gespeel, maar ek kan nie eers behoorlik agteroor bliksem nie, nevermind fiets trap van St Lucia af Kaapstad toe. Om alles te kroon het ek ‘n hewige rookverslawing wat dit destemeer onwerklik laat klink. Nietemin, ons het ons fietse gekoop, het self die drarakke gemaak wat ons bagasie moes dra, en die mandjie voor, wat elk ‘n Jack Russel van sowat 6 maande moes dra. Daar was nie tyd vir oefen of die gewig op die agterkant uittoets nie, ons moes werk, sodat ons darem kon survive vir ‘n rukkie.

My pa het gewaarsku dat die bagasie ‘n bietjie wyd geskat is, maar ons weet mos beter. Hulle het skaars weggetrek oppad huis toe, toe ons agterkom dat daar nie ‘n manier is wat die hele spul agterop die fiets wou pas nie. Die een kollosale rugsak tot barstens toe vol, het ons per geleentheid terug huistoe gestuur, en vir die ander een moes ons 5 kms buite St Lucia omdraai en hom by mense los wat ons van geen kant af ken nie. Later moes ons met groot teleurstelling uitvind dat die twee mensies toe nie so eerbaar was as wat hulle voorgegee het nie, want die sak het blykbaar weggeraak, met my hele cd kolleksie sowel as Maria se Nikon digitale kamera, discman, en nog vele meer.

Ag wat, ‘n mens moet seker maar partymaal tevrede wees om te verloor ook. In alle geval, dit het ons met die omdraai slag ‘n paar dae geneem om weer weg te trek, want die groot bang het ons beetgepak. Daai 5 kms was genoeg om enige mens se hare te laat regop staan. Ek kon nie eens op my fiets balanseer nie, en asemhaal tussendeur was tevergeefs. Uiteindelik hoor ek my pa se stem hier in my agterkop, wat se: ‘moenie worry nie ounooi, ek weet jy gaan nie eers 2 dae haal nie, maar bel my net, ek is dadelik daar om jou weer op te laai.’ Toe spring ons op soos een man en begin trap! Dit was maar rukkerig, en ons het nou al ‘n globale bedrag gespandeer op gastehuise, waar ons weggekruip het vir die oomblik. Die onbekende. Dis darem ‘n vreesaanjaende ding. Klink alles goed as ‘n mens daaroor sit en gesels, maar as jy by die diepkant inplats, dan spartel jy vir lewe en dood.

Soos nou, net 15km buite St Lucia kry ek ‘n pap wiel. Kan nie dink dat ek al ooit ‘n fietswiel geruil het nie, want toe ek klein was, het ek van die ‘permanent tubes’ gebruik. Daar’s blykbaar altyd ‘n eerste keer. Ek probeer eers om die wiel te ruil met al die bagasie agterop, maar kom gou agter dis nie so maklik nie. Met groot drama en ‘n gehuil oor my lot (eintlik maar net bang en sukkel met die asem), gooi ek alles eenkant en begin my werk. Na ‘n goeie uur is die wiel steeds nie reg nie, en ek weier om hulp te aanvaar, ek sal self!!! Uiteindelik is die gaatjie gestop, maar om die dood kry ek nie die wiel styfgepomp nie. Nou gee ek nie ‘n dooie duit om nie, aanvaar maar die handjie wat Maria bysit, maar selfs sy kry die verdomde tube nie styfgepomp nie. ‘n Bakkie vol swartmans gelaai, stop naderhand en vra of hulle kan help, maar nee, die band wil niks weet van volkom nie.

Toe dit net wil begin lyk asof ons gestrand sit, stop ‘n dierbare mensie, Andre, van Mtubatuba langs ons. Hy gee die pomp ‘n go, maar niks. Hy reken hy’t ‘n hoelugdruk pomp by die huis, laai summier die fietse agterop die bakkie en daar gaat ons, te dankbaar dat ons nie die nag in die middel van nerens hoef te kamp nie, alhoewel dit die oorspronklike plan was, maar nog ‘n dag gaan nie seermaak nie. Andre se familie ontvang ons met ope arms, en ons sit saam met die gesin af na die tennisklub toe, waar almal ‘n lekker potjie tennis en muurbal inkry. Daarna huistoe, waar ons wegle in ‘n heerlike maal van braaivleis en bykosse. Sien wat gebeur as jy dink jy’s verlore en gestrand, wondere…